

Die oase van die Bo-Karoo
Welkom by Aan-die-Oewer, die oase van die Bo-Karoo.
Hier kan vakansiegangers en besoekers van oraloor die betowering van die pragtige oewer, die rivier en natuurlik die gasvryheid van Orania en sy mense kom ontdek. Uitgestrekte grasperke onder die inheemse wag-‘n-bietjie-, doring- en kareebome bied ruimte vir kinders om te speel en vir grootmense om sommer net ‘n vleisie te braai terwyl hulle die rustigheid en skoonheid van die omgewing geniet.
Selfsorgchalets en ‘n hotel met 12 kamers sorg vir genoeg akkommodasie vir nagenoeg 150 gaste. Die oord het heelwat geriewe soos ‘n restaurant, spa, onderdakswembad, kajakke en ‘n vlot op die rivier. Waterpret soos binnebandry word in vakansietye aangebied, onder leiding van ‘n bekwame gids.


Selfsorg Chalets
Die selfsorgchalets is almal ten volle toegerus en wissel in grootte en uitleg. Elkeen is uniek en keurig toegerus en gaste staan telkens verstom oor die luukse verblyf wat hulle hier ontdek. Van die kleinste plekkie vir twee persone tot die grootste huis wat nege gaste kan huisves, is toegerus met DSTV, lugversorging, houtdekke of stoepe met dekmeubels en braaigeriewe. Komplimentêre tee en koffie word vir u eerste nag se verblyf voorsien. Gaste kan deurgaans verseker wees van aangename verblyf en goeie waarde vir geld.
Hotel
Die Oewer Hotel met sy 8 dubbel- en 4 familiekamers is ‘n goeie keuse vir gaste wat nie die selfsorgopsie verkies nie. Elke kamer is met sorg toegerus en is voorsien van alles wat u nodig het vir aangename verblyf. ‘n Klipgooi van die restaurant en spa af, is die hotel ‘n goeie keuse vir gaste wat op ‘n sakebesoek aan Orania of omgewing is.
